KIDDIE JUNCTION KLEUTERSKOOL

Waar kinders speel-speel leer

Uit ons skoolhoof se pen...

Beste Voornemende Ouers

asook

ons gewaardeerde Bestaande Ouers wat huidiglik maatjies in Kiddie Junction het,

 

EERSTENS: ‘n hartlike WELKOM aan u almal!

 

BEKENDSTELLING:

Gun my asseblief eerstens ‘n paar lyntjies om myself aan u voor te stel:

Ek is Dr Kobie Barnard en is die Skoolhoof van Kiddie Junction, ‘n besonderse kleuterskooltjie in Montana Park. Ek het ongeveer 45 jaar ondervinding in verskeie sektore van die Onderwys: Staatsskole, privaatskole, onderwysersopleiding, kleuteronderwys, laerskoolonderwys asook hoërskoolonderwys. Ek is ook by die HPCSA geregistreer as ‘n Opvoedkundige Sielkundige met oor die 30 ondervinding met kinders en in ouerleiding.


GESKIEDENIS VAN KIDDIE JUNCTION

Kiddie Junction is in Maart 2024 nege jaar oud. 

Ons het hierdie skool aanvanklik as ‘n klein familie-skooltjie begin maar spoedig het die familie van Kiddie Junction gegroei tot ‘n groot uitgebreide familie. So deur die jare het ons baie maatjies, mamma’s, pappa’s, ouma’s en oupa’s bygekry wat steeds deel is van ons familie. Kiddie Junction se heel beste advertensie is ons gelukkige maatjies en ons tevrede ouers.

 

BEGINSELS, NORMES EN WAARDES VAN KIDDIE JUNCTION

Kiddie Junction is gefundeer op suiwer Bybelse en Christelike beginsels en waardes. Elke kind word beskou as ‘n Godgegewe geskenk en dan ook so hanteer. My persoonlike slagspreuk ten opsigte van ons maatjies is:

“Have a Heart”

Verder glo ons in ‘n holistiese benadering tot kleuteronderwys. Daar word gefokus op die ontwikkeling van alle aspekte van die kleuter se menswees vanaf  babadae totdat die kleuter gereed is vir Graad R. Ons streef daarna om al ons maatjies se fisieke behoeftes, veiligheids- en sekuritietsbehoeftes, behoeftes aan liefde en geborgenheid, behoefte aan ‘n gesonde selfbeeld en behoeftes aan selfaktualisering en selfverwesenliking maksimaal te ontwikkel en te bevredig. Volgens die teorie van Maslow word selfaktualisering (soos byvoorbeeld prestasie) eers werklik bereik wanneer aan ál die ander behoeftes aandag geskenk is.


AKADEMIESE PROGRAM VAN KIDDIE JUNCTION

Ons akademiese program en kurrikulum is fantasties en van hoogstaande gehalte en is goedgekeur en afgeteken deur ‘n arbeidsterapeut. Ons kurrikulum-ontwikkeling is dinamies en ons brei ons kurrikulum voortdurend uit om aan te pas by die nuutste tendense in die onderwys.  Ons glo egter steeds dat kinders leer deur ook baie te speel, te klim en te klouter. Sensoriese stimulasie word ook by ons kurrikulum ingesluit.

 

SPYSKAART

Kiddie Junction se spyskaart is opgestel deur ‘n dieëtkundige en is dus gebalanseerd. Deur die jare het ons besef dat kleuters nogal kieskeurig kan wees oor die eet van groente. Ons het dan ook al ‘n paar kreatiewe planne bedink om groente te kamofleer sodat die maatjies dit ook eet.

 

HIGIëNE, NETHEID EN VEILIGHEID

Ons is baie gesteld op ‘n netjiese en skoon skool. Ons verf jaarliks die skool uit en algemene instandhouding is vir ons belangrik. Ons saniteer daagliks, maatjies word geleer van netheid en handewas. Ons het ook ‘n kontrak met ‘n maatskappy wat weekliks die skool kom ontsmet.

Skoolveiligheid is ook vir ons ‘n prioriteit: Kiddie Junction is ‘n lid van die plaaslike GPF, ons is lid van ‘n sekuriteitsmaatskappy, ons het alarms, sekuriteitshekke en een van ons jarelange werkers doen patrolliediens sommige tye van die dag buitekant die skool, veral tydens die besige aflaaityd in die oggende.

Ons maats doen ook gereeld klaskamerontruimingoefenig om hulle gemaklik daarmee te maak om vinnig en kalm die skool te kan ontruim in ‘n noodgeval.


BUITEMUURSE AKTIWITEITE

Ons bied 5 addisionele buitemuurse aktiwiteite aan wat ingelsuit is by ons maandelikse fooie: Kiddie Tunes (Musiekwaardering), Kiddie Jumpers (Motoriese ontwikkeling), Kiddie Lab (Wetenskapontwikkeling), Kiddie Chef (Bak en Brou) en Kiddie Tech (Rekenaarontwikkeling vir die senior maats) Die ander buitemuurse aktiwiteite word deur buite diensverskaffers aangebied. Dit behels swem (Charlotte se Swemskool kom haal die maatjies by die skool en bring hulle weer terug skool toe na afloop van hulle swemlessies), dans, gimnastiek, Lego, rugby en Wiskunde.

Dit is vir Kiddie Junction ook belangrik om ons maatjies se persoonlike liggaamsruimte te beskerm en hulle hierin ook te bemagtig. Kiddie Junction bied ‘n ouderdomsgepaste kleuterskool voorkomingsprogram vir misbruik aan vir ons ouer maatjies.

 

TOELATINGSOUDERDOMME EN KLASPLASINGS

In die Bytjieklas is die maatjies vanaf 3 maande tot by ongeveer 1 jaar.

In die Eekhorinkieklas is die maatjies vanaf 1 jaar tot 2 jaar.

In die Bokkieklas is die 2-3 jariges.

In die Leeutjieklas is die 3-4 jariges.

Ons Graad RR klas is die Dinosorusse en hier is die 4-5 jariges. Wanneer die maatjies die program in die Dinosorusse klas voltooi het is hulle gereed om by ‘n laerskool aan te sluit vir Graad R.


PRESTASIES VAN OUD-KIDDIE JUNCTION LEERDERS

Kiddie Junction se leerders presteer dan ook baie goed in die laerskole:

 In 2023 het Kiddie Junction vir die eerste keer oud-leerders gehad wat in Graad 7 leerders in laerskole was.  Ons kan met baie dankbaarheied getuig dat 2 van Kiddie Junction se oud-kleuterskoolmaatjies in 2023 onder die hoofleiers was by verskillende laerskole.

Ons tweede jaargroepie wat by ons klaargemaak het in tans in Graad 7. Hierdie jaar (2024) het ons weereens ‘n hoofleier in ‘n bekende laerskool in ons omgewing.

Ons is voorwaar trots op hulle!

Ons kry ook gereeld terugvoer vanaf voormalige ouers wat sê dat ons maats gemaklik aanpas in Gr R en die werk maklik baasraak.

 

MENINGSPEILING

Ons monitor gereeld die gehalte van ons dienslewering aan ons maats en aan ons ouers.  Ten einde dit te kan regkry stuur ons jaarliks meningspeilingsvraelyste aan ons ouers uit.  Aan die einde van 2023 het ons weer ‘n meningspeiling aan ons ouers uitgestuur en weereens, net soos in die verlede, was ons ouers baie tevrede met die kwaliteit van onderwys en dienslewering wat Kiddie Junction lewer.  Gelukkige maatjies en gelukkige ouers is vir ons ‘n prioriteit.

 

PERSONEEL VAN KIDDIE JUNCTION

Bietjie meer oor Kiddie Junction se personeel: Ons het baie personeel in vergelyking met ander skooltjies – ons glo daaraan dat ons personeel meer as voldoende  moet wees, veral vir veilige toesig en beheer.  Hierdeur verminder ons ook uitbranding by ons personeel.  Ons 

onderwyseresse is òf ten volle gekwalifiseer òf soms nog besig met hul deeltydse onderwysstudies soos deur die Departement van Onderwys vereis. Ons personeel is gekwalifiseerd in Noodhulp asook basiese brandbestrydingsvaardighede. Ons personeel doen ook gereeld aanvullende en verrykende kursusse. Aangesien ek dan ook ‘n Opvoedkundige Sielkundige is, is my deur altyd oop vir ouers ten opsigte van die maatjies se emosionele ontwikkeling, die hantering van die verskillende temperamente, aspekte van skoolgereedheidsvoorbereiding asook algemene ouerleiding. Indien dit nodig is vir ‘n maatjie om ander terapeutiese insette te ontvang, is privaat terapeute ook welkom om van ons fasiliteite te gebruik indien ouers so ’n versoek het.

 

TEN SLOTTE:

Ons kan met reg verklaar dat Kiddie Junction getrou is aan die handhawing van self opgelegde hoë standaarde, die daarstelling van ‘n veilige, skoon en higiëniese tuiste vir ons maatjies asook die volle ontwikkeling van elke kind se Godgegewe talente en potensiaal.

 

Vriendelike Groete

Dr Kobie Barnard

Skoolhoof 

 

Besoek gerus ons Facebook blad om te sien wat ons weekliks doen: 

Please visit our Facebook page for up to date weekly activities:



Map
Call
Email